Ons het 'n geseende 12 dae uitreik gehad saam met 'n herderspaar van Suid Afrika, Jannie & Lizelle Calitz. Hulle het 'n "huweliks-kliniek-seminaar" vir ons Christian Life Bybelskole en Gemeentes kom aanbied en die Kalejins was lekker opgewonde! Aspekte soos - "Temperament & Persoonlikheid", "Kommunikasie binne die huwelik", asook "Ouer-kind- verhouding" is aangespreek.'n Lekker spontane en gemoedelike aanbiedingsstyl is gehandhaaf
en volgens die vrae wat telkens gevra is kon ons gou sien dat die Keniane baie baat gevind het! (Is huwelike tog nie maar 'n "sagte teiken" vir die Satan oral oor die wereld heen nie?)
Ons het ook die geleentheid gehad om vir Jannie-hulle so bietjie blootstelling te gee van sekere areas waar ons betrokke is en glo my na al daai lekker rowwe paaie en terreine het ons almal se agterstewes amper "Zambuk-salf" nodig gehad! Op een geleentheid het ons vir vier uur en twintig minute met 170km geworstel...! Opwindend en tot eer van ons Koning!
Dankie Jannie & Lizelle, ons weet jul bedieninge was 'n groot seen vir die Koninkryk hier en julle samesyn natuurlik 'n groot "blessing-de-luxe" vir my en Peggy!
Dankie ook sommer weereens aan almal van julle wat ons die afgelope drie jaar hier in die Kenia-sendingveld kom besoek het...So 'n ou besoekie is groot pitkos vir my en Peggels...! En dan ook net weer baie dankie aan ieder en elk van julle wat nie kan kom besoek nie, maar wat so getrou vir ons werksaamhede bid asook 'n finansiele bydrae maak sodat ons twee met die sendingaksies van God kan voortgaan... Wees geseend!